WAAR DIT BEGIN HET
Ons is 'n groep gelowiges wat uit Suid Afrika geimmigreer het, wat die Here liefhet en hom graag wil volg soos dit in Sy Woord vir ons voorgehou word, al is ons in 'n vreemde land. In die mooie Ierland in die verre Noord Atlantiese Oseaan laat ons, ons lig skyn. Tussen die verhale van feetjies en ou vervalle kloosters bring ons lof aan die Here omdat Hy die Almagtige God en Skepper van die heelal is.
Dit is ons ambisie om die Woord van die Here suiwer en getrou elke Sondag in persoon in die kerk in Mountmellick Co. Laois, op Facebook, YouTube en WhatsApp te verkondig.
Sedert 2013 hou ons gereeld kerk en ons groei steeds elke jaar met nuwe lidmate.
In ons harte leef 'n droom om die evangelie aan veral jong mense in Ierland te bring sodat daar altyd iemand sal wees wat kan getuig van die grootheid van die Here.
Enige persoon of gesinne wat so oortuig voel, kan ons kontak sodat ons met u kan kontak maak.
​
ONS LERAAR
Ons Leraar is Rassie Erasmus, hy is in die hartjie van die Vrystaat op ‘n plaas in die Ventersburg distrik gebore en het daar grootgeword. Na matriek aan die plaaslike skool het hy in Bloemfontein Teologie gaan studeer.
Hy was aktief betrokke in die studentelewe, word verkies op die huiskomitee en dien ook vir twee termyne op die studenteraad. Hy is ook kerklik betrokke by die sendingvereniging, neem deel aan twee fietstoere en dien ook as ouderling in die studentegemeente.
In 1986, word hy gelegitimeer en na sy twee jaar diensplig in 1989, word hy georden as predikant in die Nederduitse Gereformeerde gemeente Tweeling. In 1997 voltooi hy sy Meestersgraad in Pastorale Terapie en bedryf ook vir 'n kort tydjie ‘n pastorale spreekkamer in Bethlehem.
Na twaalf jaar in die gemeente beweeg hy aan en werk as die bestuurshoof van Curamus, ‘n Nie-winsgewende organisasie wat na gestremde oorlogsveterane omsien. Die entrepreneursbloed het egter sterk begin bruis en in 2009 begin hy sy eie besigheid in die boubedryf en fokus op binneshuise installasies en vervaardiging van meubelement. Hy en sy vrou Ethelda verhuis in 2011 na Ierland waar hy voltyds terugkeer na die bediening.
In 2013 begin hy en ander Afrikaans sprekende mense ‘n klein geloofsgemeenskap in Ierland. Hierdie groepie het stadig begin groei en later is die ZA Irish Reformed Church gestig om die Here se woord in Ierland te verkondig.
Wat aanvanklik net onder Afrikaans sprekendes begin het, het later uitgebrei tot ‘n Ierse gemeente in 2021. Die nuwe kerk in Ierland word kortweg die “Irish Reformed Church” genoem en is huidiglik in ‘n opwindende groeifase. Dienste word weekliks in Engels en Afrikaans aangebied. Omdat Ierland 95% Rooms Katoliek is staan die jong gemeente onder verskeie moeilike uitdagings.
Rassie is getroud met Ethelda ‘n mediese dokter en hulle woon in Co. Laois in die Republiek van Ierland.
​
INDIEN U ONS WERK WIL ONDERSTEUN MAAK GERUS 'N BYDRAE HIERONDER
Error messages will show here