Die boek Prediker maak sy verskying in die vierde eeu v.C. Die konteks is ‘n groep mense wat luister na ‘n denker wat homself “Qohelet” of prediker noem. Die prediker kon ‘n koning gewees het of iemand wat aan die paleis administrasie verbonde was. Regerings in die antieke tyd het wyshede en spreke versamel om te help met besluitneming. Daar was baie mense in diens van so inisiatief, een van hulle kan dalk hier aan die woord wees.
Die prediker praat oor die sinloosheid van die lewe. Watter voordeel kry die mens uit sy geswoeg op aarde? Alles kom tot niks en is ‘n gejaag na wind, dit is die tema van die boek. Hierdie tema kom telkens weer aan die orde en uiteindelik sien die prediker sy eie studie en gesoek na oplossings ook as ‘n gejaag na wind en iets wat tot niks kom nie.
Ons word in hierdie Bybelstudie gekonfronteer met wat met ons gebeur op aarde. Een so voorbeeld is dat daar niks nuut onder die son is nie. Alles wat is was al en sal weer gebeur. Dan is daar ook die probleem van sake wat ons nie kan verander nie, soos byvoorbeeld dit wat krom is kan nie reguit gemaak word nie.
Alhoewel Prediker op ‘n droewige trant begin is dit ‘n baie positiewe boek met ‘n pragtige les vir ons almal.
Kommentare