Jesus is op hierdie punt in Lukas deeglik aan ons voorgestel. Hy is die Seun van God ons verlosser. Daar bestaan nou geen twyfel meer oor Jesus, sy geboorte sy lewe en sy taak nie. Die groot toets wat nou voorlê is hoe die mense die Seun van God gaan ontvang. By Matteus begin Jesus se openbare optrede met die bergrede, in Lukas begin dit met preke in klein dorpies in die omgewing van Kapernaim waarby Nasaret sy geboortedorp ingesluit is.
Jesus word in die omgewing goed ontvang en die mense prys Hom vir sy kennis en insig. Hy kom op sy tuisdorp aan en kry 'n geleentheid om in die Sinagoge te preek. Hy lees uit Jesaja 61:1-2. Almal kyk met verwagting na Hom en knik goegkeurend toe hulle hulle eie gemeenteseun hoor preek. Hy het immers tussen hulle grootgeword en dit is met positiewe energie dat hulle wag vir sy preek. 'n Mens sou met die eerste oogopslag sê dat Jesus goed ontvang word. Die positiewe gevoel verander egter baie gou in 'n haatgevoel.
Die probleem blyk te wees die Messias en die boodskap. Wanneer Jesus begin, maak hy twee aanames, wat skokkend is. Een is dat Hy die Messias is wat gekom het om die volk te red en twee, die goeie tyding is nie net vir hulle bedoel nie maar vir alle mense.
Die mense kan nie hanteer dat hierdie eenvoudige seun uit hule eie midde die Messias is nie. Hulle verwagting is vir iemand buitengewoon wat met mag en glorie by hulle aankom. Ek is ook nie seker of hulleself geweet het waarvoor hulle wag nie. Baie keer is die probleem, wat is ons vrrwagting van Christenwees en die kerk? Kan die werklikheid van dit ons dalk afskrik?
Tweedens is die boodskap ook gerig op mense waarvan die Jode hulle niks hou nie. Jesus en sy prediking voldoen nie aan hulle verwagtings nie en dus verwerp hulle hom. Hulle voel so negatief oor sy voorkoms en werk dat hulle hom verafsku en sy werk afwys.
Dis maklik Om Jesus daar vêr aan die kruis te verromantiseer en onsself te verdiep in die wonder van verlossing en genade maar as iemand by ons deur opdaag in vodde, dan deins ons terug! Of as ons verkleineer word omdat ons geloof afgelag word, dan skrik ons en wil ons ander paaie opsoek.
Die mense van Nasaret is nie die enigstes wat teleurgesteld was met Jesus nie, ons is vandag nog teleurgesteld met hom. Ons wil nie arm wees nie en ook nie nederig nie, ons wil ook nie gesien word as blindes en gevangenis nie nog minder as swakkelinge. Nog minder wil ons met hierdie tipe mense assosieer of na hulle uitreik.
Ons wil mag hê en ryk wees, ons wil met glorie en krag beheer neem oor alles wat ons kan. So wil ons Jesus sien as die invloedryke krygsman en oorwinnaar wat die slegte mense voor die voet uitroei en sy gelowiges saamneem in 'n wêreldse triomftog. Van arm wees en die minste wees het die mense van Nasaret nie kans gesien nie en nog minder wou hulle die onderdane van 'n eenvoudige ambagsman se seun wees. Toe dit aan hulle voorghou is het hulle rooi gesien, dit is nie wat hulle wou hê nie en so probeer hulle Jesus doodmaak.
Comments