Daar bestaan geestelike wesens wat ons nie kan sien nie. Net soos ons, is hulle ook deur God geskape. Ook hulle is beskryf as goed. Een van hierdie geestelike wesens, 'n engel, het teen God in opstand gekom, die hemel verlaat, en baie ander met hom saamgeneem. Lees meer hieroor in Judas :6, 2 Petrus 2:6 en Johannes 8:44. Hierdie gevalle engel word nog steeds deur God beheer maar word toegelaat om met beperkte mag op aarde te opereer, Efesiers 6:12 praat byvoorbeeld van die bose geeste in die lug waarteen ons moet stry.
Ons lees baie min van satan in die Ou Testament asook van besetenheid.
Duiwelbesetenheid neem geweldig toe in die tyd toe Jesus op aarde was maar neem af na Jesus gekruisig is. Dit dui op 'n velle stryd wat geheers het met Jesus wat gekom het om die duiwel se mag te breek. God laat die duiwel toe om binne perke op te tree en gebruik die duiwels om die grootheid van sy mag deur Jesus te toon. So maak Hy nie net Jesus aan die wêreld bekend nie, maar wys die wonder van sy genade aan die mense.
Vandag werk die duiwel op baie gesofistikeerde maniere en dring veral die kerk binne as leier en verkondiger van die Woord. Kyk na 1 Timoteus 3:6.
Die duiwel dring die kerk binne op baie innoverende maniere. Diabolos beteken om uitmekaar te gooi. Die mens en God word uitmekaar gedruk, gestoot. Hy lê hindernisse op die mens se pad. Hy is die meester van onreinheid en walglikheid.
Hierdie duiwels is onsigbaar en leef graag naby en selfs in die mens. Satan heers deur die leuen, ongeregtigheid, chaos, en die dood. Hy neem beheer van die mens se liggaam, verduister die mens se persoonlikheid en maak van die mense monsters. Hulle weet egter baie goed wie Jesus is en hulle sidder van vrees vir Jesus. Hulle is reeds oorwin en sal hulle aan Hom onderwerp.
In ons stryd teen die duiwel is daar ongelukkig nie 'n middelweg nie, of saam met Jesus of teen hom. Die stryd duur voort en dit is 'n verwoede stryd. Die hare waai as Jesus naby die duiwels kom en hulle wyk.
Ongelukkig het die wêreld nie meer plek vir Jesus nie. Mense wil niks meer van die Here weet nie hulle maak hulle lewens skoon en sit lekker agteroor met skynbaar vrede in hulle gemoed maar as hulle nie met Jesus gevul is nie is dit net 'n kwessie van tyd voor hulle totaal versleg. As die duiwel verby kom sien hy 'n lekker skoon plek en dan gaan haal hy sewe slegter geeste as hy om saam met hom on te trek.
Die duiwel wyk uit die seun as Jesus hom bestraf en maak nie die seun seer nie want Jesus het hom so beveel. Die kind het genoeg trauma gehad en dit is nou verby! Jesus het mag oor die bose en terselfdertyd beskerm Hy die swakkes.
Comments