Sonder Jesus Christus is ons niks en met Hom is ons alles. In die gedeelte wat ons gelees het het baie dit nog nie verstaan nie. Daar was egter vier vriende van ‘n verlamde man wat dit baie goed verstaan het. Vier vriende het gehoor van Jesus en hoe meer oor Hom vertel is het hulle laat dink dat hierdie Jesus hulle vriend se oplossing is. Siekte is ‘n teken van sonde, so het hule gedink, of jy melaats is, verlam is, doof is, alle gestremdhede is gesien as die gevolg van een of ander sonde.
Die vier vriende besluit toe om hul gestremde, “sondige” vriend na Jesus te bring. Hulle kom by die plek waar Jesus is en vind dit onmoontlik om na vele versoeke toegelaat te word om die sondige man in Jesus se teenwoordigheid te bring. Toe maak hulle maar ‘n opening in die veranda en laat sak die man van bo-af om voor Jesus te verskyn.
Jesus sien die vriende se geloof raak en weet onmiddelik wat die probleem en behoefte is. Hierdie man wil van die mag van sonde verlos word. En dit is presies wat Jesus vir hom gee, verlossing van sy sonde.
Vergifnis van sondes was die man se behoefte en daarmee het Jesus inderwaarheid aan die man se behoefte voldoen al sou hy lam gebly het. Jesus kon net soos met Paulus vir hom gese het, jou sondes is vergewe maar jy bly gestremd want daardeur kan jy vir God van meer waarde wees.
Die probleem is egter dat enige person vir ‘n ander een kon sê jou sondes is vergewe en daarmee wegkom want daar is in werklikheid geen bewys nodig vir die vergifnis van sonde nie. Daarom laat Jesus ook die wonder genesing plaasvind deur die krag van die Heilige Gees. Met hierdie genesingswonder bevestig Jesus dat Hy wel die seun van God is en dat Hy sondes kan en mag vergewe. Die man word gesond en kan aangaan met sy lewe. Jesus het die sonde oorwin!
Die mag van sonde is deur die werk van Jesus vernietig en het nie meer ‘n invloed op ons lewe nie. In Jesus Christus mag die sonde ons nie meer verlam nie. Ons het nie nodig om terug te kyk nie. Die sonde is begrawe. Soos geskrywe staan: “Hy sal ons weer genade betoon,Hy sal ons sonde tot niet maak,U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.” (Micah 7:19, AFR1983) En ook “Daardie dag sal daar ’n fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.” (Zechariah 13:1, AFR1983)
Comments