top of page
rassie117

Lukas 1:67-80 Wie steel jou geluk?

Baie kere in die lewe mis ons dit wat ons werklik bedreig. Weens 'n selfgesentreerde uitkyk op die lewe sien ons net raak wat ons materieël skade berokken. In die tyd van Johannes die Doper was mense opstandig en kwaad oor dit wat hulle nasionalistiese ambisies beinvloed het. Dit was meestal materieel fisies van aard. Hoeveel belastings en aan wie hulle dit betaal? Wie besit die meeste grond en goed en wie is in beheer van die land? Byna net soos vandag het die politiek en ekonomie die grootste sê gehad.

Lukas was bewus van al hierdie strewes wat veral die Jode gehad het. Die pynlike werklikheid was egter dat toe hierdie gedeelte neergeskryf is, was alles wat die Jode begeer en verlang het, so te sê vernietig. Daar was net as oor.

Lukas bring binne in hierdie verlore glorie en ambisie 'n oorlogslied in. Moontlik 'n lied wat deur die militante Makkabeërs gesing is. Op die manier trek hy mense in, want hy raak hulle harte aan. Dis die stryd waarvoor hulle gereed en voorberied is. Hulle sal graag wil veg en baklei. Die Verlosser wat kom en sy voorloper profeet sal hierdie vyand aanval en vernietig. Die woord horing word gebruik om 'n vergtende dier te beskryf. So sal die vyand van die Jode vernietig word.

Hierdie vyand word nie by die naam genoem nie, dit word so as't ware in die hande van die lesers gelaat om te besluit wie die vyand is. Die hoof beskuldigde sal die Romeinse ryk wees. Daardie moontlikheid word so gelaat in die gemoed van die lesers.

Lukas, die meester wat hy is laat egter die vyand stukkie vir stukkie duidelik word. In hierdie lied word die vyand van die Jode ontmasker. Die verlossing sal geskied deur die vergifnis van sondes. Die gevolge van die verlossing is 'n vrede-ryk en al hierdie dinge sal geskied deur die koms van 'n nuwe Stêr, n nuwe Daeraad wat 'n lig vir almal sal wees tot by die uithoeke van die aarde. Lukas wys duidelik dat die vyand geen fisiese mag is nie, nog minder is dit iets wat met swaarde beveg moet word en die horing van oorwinning is nie die van 'n bul nie maar van 'n lam.

Lukas ontmasker ons grootste vyand en dit is nie 'n mens of 'n politieke party nie en die grootste vreugde in die lewe is nie 'n nasionalistiese staat nie maar 'n ewige koninkryk waar mense onder leiding van die Heilige Gees in waarheid en opregtheid leef.

Sonde is ons grootste vyand en ons moet daarvan wegvlug en belydenis doen van alles wat verkeerd is. Ons moet leer uit ons foute en dinge regstel op 'n regverdige en vroom manier. Slegs as ons eerlik en opreg leef sal dinge begin regkom. 'n Opregte hart is die bron van hoop, Moenie julle liggame besny nie maar besny julle harte en dit was die boodskap van Johannes.


2 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page